Loading ...

Die Kettie

Mag ek julle vir so ‘n wyle terugvat na die Townships?
Ek ontmoet daar toe mos ‘n jong diensplig-luitenant, 2Lt Strydom. Hy was seker een van die mees gewilde offisiere wat ek ooit raakgeloop het. Jonk, seker voorverlede jaar nog op skool gewees. Korterig, skraal, aantrelik en hy loop regop soos ‘n kers. Hy was streng met sy troepe, maar het vir hulle gesorg. Hulle sou op die tuisbasis die beste tente kry, eerste by die storte wees, tee kry as dit nog warm is, hulle toebroodjies was gerooster. Hy het hulle fiks gehou, sonder om hulle te vloek of hulle ma’s te beledig. Hulle het hom gevolg uit respek, en nie uit dreigemente of vrees nie. Sy bevele is tot op die letter gehoorsaam. Dit was nie vreemd om Strydom te sien loop en sy manne soos eendjies agter hom aan nie. Hulle Buffel se roepsein was 20C, oftewel twee-zero Charlie. Dis met groot letters wit verf op die kant van hulle Buffel aangebring. 
Die ding is, as daar opstootjies of ‘n bietjie erger, onluste was met lewensgevaar is, is die Buffels soontoe ontplooi. Dit was meer ‘n magsvertoon as iets anders, want jy mag net skiet as iemand eerste na jou skiet, of as ‘n brandbom binne die Buffel land. Die klompie pretmakers het gou agter gekom dat die soldate half tandeloos net moes toekyk wat gebeur. Tot 20C opdaag. Dan is dit gou onder beheer. Net leë strate en vriendelike mense.


Daar by die polisiestasie kom hulle juis mos so van ‘n ekskursie af, waar die klipgooiery en bandebrandery amper buite beheer was. 20C was daarheen gestuur en alles is binne minute opgelos. So vra ek mos vir Strydom hoe dit werk? “Nee, Dominee, dis maar die krag van ons persoonlikheid. Ons kom daar, vertel vir die klomp hulle moet ophou, want netnou gooi hulle iemand raak. En hierdie gebrandery van die tyres is ook nie goed vir die longe nie. Dan luister hulle na rede en groet ons, en dan loop hulle huis toe”. Ja, okay.  Twee dae later is dit weer so. Ek loop toe maar weer hom tegemoet, want ek wil nie hê hy moet moeilikheid kry nie.  “Strydom,julle moet ophou. Ek weet julle skiet op die inboorlinge. Julle gaan moeilikheid kry”.  “Dominee, ek belowe. Nog nie een van ons het ‘n skoot getrek nie”.  Hy roep een van sy manne.  “Kruger, wys die kapelaan jou geweer. Dominee, ruik maar. Tel die rondtes as jy wil”.  Ek inspekteer die R4. Ja-nee, die geweer is nie onlangs afgevuur nie.  “Dis goed Luitenant, maar ek weet nog nie wat julle aanvang nie”.
‘n Week of so later sit ek toe mos self op ‘n Buffel, daar in die strate van Tsakane. ‘n Goeie ses honderd of so oproeriges het die strate oorgeneem. Hulle sing, skree, stamp voete, gooi klip en brand ‘n paar goed af. Dit word lelik. Raai wie kom hier aangejaag? Niemand minder nie as Strydom en sy manne, op Buffel, roepsein Twee-Zero Charlie. 


Die Buffel swaai dwars in die pad, grond trek en die gevaarte wieg ‘n paar maal op die suspensie. Dan val die groot kant van die voertuig buitentoe op sy skarniere met ‘n “klang”. Binne die Buffel staan Strydom, sy makkers en selfs die polisieman. Elkeen het ‘n kettie, dit wil sê, ‘n mik uit ‘n dienlike boom met twee stukke rek aan en ‘n velletjie wat hulle sekerlik uit hulle stewels se tonge gesny het. Een of twee het gekoopte ketties met ‘n staalmik en haasrek. Voor die kant opgehou het om te klang!, trek die spul los met ketties en albasters. Binne ‘n halfminuut is wet en orde gerestoureer.

As dit vir Dawid kon werk, dan kan dit seker vir die S.A.W ook werk?

Ja, Strydom. Dis die krag van julle persoonlikheid, nê?

Philip Venter

Facebook

Survey All Pages