Loading ...

Het jy al opgelet hoe snaaks dinge in die kerk is. Die alledaagse word verhef tot die amusante en die snaakse word skreeusnaaks. Die eenvoudigste grappie dreig om jou nate te bars. Dit is seker omdat dit so ‘n kontras is. Alles en almal kom so sedig voor. So ook op ‘n formele Vrydagoggendparade.  Die vorige aand het ons onder andere kool en sousboontjies vir aandete gehad. Kool en boontjies is natuurlik beide kossoorte wat berug is daarvoor om voortreflik stoom op te bou. In ‘n samedromming van lywe is die gevolge soveel indrukwekkender. Ook maar goed dat parades in die buitelug gehou word.  Daardie Vrydag staan ons almal, styf opgeblaas, op parade. Dis ook nie sommer so ‘n spontane byeenkomste nie. Hierdie is een van daardie formele doe’s, vol swier en ritueel - die volle nege jaarts. Negehonderd, sewe-en-dertig man op parade, elkeen bewus van sy plek en plig.


So skuins voor my staan ‘n kommandant styf op aandag. Net nadat die PF-dominee klaar gelees en gebid het, is daar ‘n oomblik voordat die eenheidsbevelvoerder sy groot woord spreek. In daardie oomblik, so vol afwagting en spanning, gee ‘n man hier iewers agter my se drukklep mee. Hy los ‘n wind, maar ‘n lawaaierige een; een van daardie wat met ‘n geskal en ‘n tromgeroffel uitstorm, reg om te kyk wat hy kan platwaai. Dit was met so ‘n poging waarmee die wolf die klein varkie se houthuise van sy fondamente afgeblaas het.
Sonder om om te kyk of om ‘n spier te trek, sê die kommandant: “Slegte hoesie wat jy daar het...”

Ek weet tot vandag toe nie wat die kolonel gesê het nie.

Philip Venter - Facebook

Survey All Pages