Loading ...

Eerste Kontak

Vra die manne wat daar was, die eerste kontak is nie so erg nie. Dit klink en ruik en voel soos ‘n oefening en jy het baie daarvan agter die blad. Alles is ingedril, ingeoefen, gerepeteer, herhaal, weer gedoen, oor gedoen; oor en oor en oor, totdat jou eie verstand uit pure verveeldheid oorgegee het aan jou nuwe kondisionering en instinkte. En wanneer dieselfde instrukteur wat jou opgelei het, vir jou dieselfde instruksies gee klink alles so normaal en om mee te begin is alles dieselfde, is alles net nog ‘n oefening. Die geluide is dieselfde. Die harwar van bevele, bewegings, van stof en hitte is dieselfde. Jou lyf ken die teksture van die stekerige gras en die ontoegeeflike grond. En jou borskas ken die skielike pofkrag van ‘n stewige dosis adrenalien. Daar is hierdie heerlike, gerusstellende konsensus tussen jou brein en jou liggaam: Hierdie is, na alles, net nog ‘n oefening.


‘n Millisekonde later bars ‘n protesgedagte deur jou instinkte: Hierdie is die wáre ding. Hierdie is nie – herhaal nie – net nog ‘n amieroemer nie.
Maar jy het nie tyd om hierdie skrikwekkende maar, o so opwindende, idee te ontleed nie. Jou lyf het reeds oorgeskakel na outomaties. Die allerheilige drils het ingeskop, daardie programme van reaksies en bewegings en nougesette gehoorsaamheid aan bevele wat deur eindelose herhaling in die diepste en prominentste tablette van jou hart gegraveer is.  Dash-down-roll battletalk, battletalk – skree elke bevel wat jy hoor kliphard uit sodat jou buddies dit ook kan hoor te midde van die knalle en kreune en vloeke en voetvalskarrelings en stampgeluide van lywe wat in holtes van die aarde ingeslaan word en die staalknarse en –klappe van wapentuig wat gespan, gelaai, gereed gemaak word. En te midde van al die frenetiese ontduik-en-slaan-terug babelsheid van dit alles hoor jy die bevelvoerder op die radio en hy skree en jy hoor die pelotonsersant en die seksieleiers wat ou-ou-ou maar nou splinternuwe bevele gee en die doelgerigte kalmte van hulle stemme het net ‘n nuwe, dringende kleur by. ...observe-sights... Jy skuur oor die grond, lig jou bolyf in die lê-houding, elmboë soos omgekeerde motorstutte onder jou... Kykkykkyk... en jy sien wat jy altyd sien: Gras, grond, krom en harde bome maar jy kyk geoefend daarna, soek die holtes in die aarde, die deinings wat die dood agter ‘n AK kan verdoesel. En rondom jou krakkel die eerste R4’s – wíe sien wát?! – en die LMG op die linkerflank begin roffel. Snotneuse doe-DOEMP iewers half agter jou en daar is die bekende fladderklank, soos ‘n breë lint wat in ‘n harde wind wapper – wanneer die projektiel in ‘n parabool vorentoe vlieg. Jy sien die skielike fontein van aardkors en rook voor jou – honderd, honderdvyftig meter, links elfuur – en dan sien jy hulle, die gebukkende figure en jy kan nie uitmaak of hulle verward of doelgerig is nie maar hulle beweeg, beweeg skielik en vinnig, en enige iets wat vinnig en skielik beweeg lewe; is vol venynige, planmatige lewe en jy hoor ‘n nuwe geluid; het al baie daarvan gepraat maar dit nog nooit gehóór nie, die eiesoortige POP... POP... poppoppop... POP... Dis meneer Aftomat Kalasjnikoff... die plofklap van ‘n AK 47. En agterna sal jy sê dit klink soos springmielies wat in warm olie oopplof en die ander wat daar was, sal weet waarvan jy praat.


Jou eie geweer wat jy al só lank saamsleep, skoonmaak, vertroetel het en wat al ‘n duisend keer deur jou gespan en gekorrel en afgevuur is, kom teen jou skouer. Jou regterduim druk die veiligheidsknip af, soek die “R” maar skuif verby na die “A” vir voloutomaties. Jou linkerhand ruk die regop spangreep agtertoe en laat dit vorentoe klap. Jy loer om en oor die gras en jou oë trek vas op ‘n bepaalde beweging. Agterste, voorste visier fokus op die voorste visier, plaas dit op die dofkol van die beweging voor jou – vlees en bloed ja, mens, maar ‘n mens wat in sy geheel nou net bestaan om deur jóú met jóú geweer – reeksnommer 662777 – geskiet te word. ‘n Groot geraas ontstaan om jou en ‘n vreemde oomblik later besef jy dis die knalle van jou eie geweer. Doppies en rook en stof en gras wat wegvoor spat. Leeg!


Verwissel jou greep op die geweer, trek die magasynknip met jou regterduim en voorvinger, ruk die magasyn uit maar as jy ‘n gelaaide een – vol van daardie venynige spitsneus koperoorgetrekte vriendjies – soek maak jou hand ekstra bewegings wat jy nie beplan het nie. PlukplukplukPLUK... RUK... die magasyn uit, haak die voorkant in die geweer se magasyngleuf in... SightsFIRE! Daar is die stywe getrommel van die kolf teen jou skouer, ‘n stewige massering, ‘n gerusstellende gehamer wat jou verseker dat jou geweer werk en as jy nog asemhaal en jou geweer werk, kan die hele, hele hoop SWAPO’s, hulle maatjies die FAPLA’s en die hele, helse Russiese weermag self jou nie stop nie!
En dan is jy saam met die res op jou voete en julle nael vorentoe en dit is so... VERKEERD... want as jy hardloop is jy regop en as jy regop is, kruip jy nie weg nie en kan hy, daardie verwoede moordenaar – wat wégkruip – daar voor, jou sien en sy geweer het ook ‘n spangreep, ‘n voorste visier, ‘n agterste visier, ‘n sneller... maar nou maak dit nie saak nie want jy hardloop, hárdloop, en jy wil hom sien, jy wil hom so bitter graag sien, dat jy jou geweer kan vat en deur jóú agterste visier kyk en jóú voorste visier kyk en jóú sneller trek en inhou totdat daar net rook en stof en verder niks voor, niksniksniks, voor jou is nie.
“Dekking!” En jy skree, gil asof jy alles kan regkry as jy net hard genoeg skree, jy gil DEKKING! en jy tref die grond, vollengte, plat, tref dit vinnig en skoon. Voorste visier, agterste visier – en die stof en die rook en die warm doppies en die getrommel teen jou skouer. Op. OP! OP! Vorentoe. Probeer hardloop terwyl jy uit die skouer skiet. Dekking. Op. Vorentoe. Dekking. Op. En dan kom alles vinnig nader, die hinderlaagposisie... en jy sien ‘n warrelwind het hulle getref, ‘n verskriklike en verwoestende warrelwind wat jy help maak het. Maar in die puin kan daar nog skerpioene wees wat hard kan steek.  “Bullets!” Bullets? Jou regterduim trek die knip terug tot op “R” en jy soek teikens en al sien jy nie regtig iets beweeg nie, pluk jy die sneller in tweeskootsarsies. Double-tap, double-tap, double-tap... ta-DA! ta-DA!
“STAAK VUUR!” STAAK VUUR!


Stilte. Iewers vloek iemand. Loet praat op die radio. ‘n Kouefront trek oor jou binnekant, spoel die koors in jou rond. Jy vind dat jou hele, ganse liggaam bewe. Dors. Baie, baie dors. En as jy op bevel jou geweer veilig maak en ‘n vars magasyn indruk en jou rondtes tel, kan jy nie glo dat jy net ‘n rapsie meer as 40 rondtes van jou eerstelyn ammunisie oorhet nie.  Om jou begin die peloton beweeg. Die stemme is skril; praat vinnig, hard. Soveel verligting, soveel... nuuskierigheid, want nou wil jy sien wat jy en hulle gedoen het.  En dan sien die jongman dalk sy eerste lyk – ‘n SWAPO in ‘n rooi T-hemp en olyfgroenbroek en stewels wat so saf geloop is soos net ‘n Afrikaan skoene sat kan loop. In die dood lyk hulle nooit so verskriklik nie. Dof en grys en vol glanslose bloed. Maerder en kleiner as wat jy verwag het.  Die gebied word beveilig en die medic vroetel koorsagtig in sy mediese sak en fladder om die gekwestes, nou nie meer vyande nie maar net mense wat seer, baie seer, gekry het.


‘n Naashisteriese verligtheid kom oor die troepe. Hulle lag met stemme wat skielik hoog en bros klink. Vertel. Vra uit. Terg. Camel-rook meng met die reuk van gebrande kruit en stof, en die vlieë is skielik daar. Water word gedeel. Uitgestelde vrees en skok vleg saam met die groot, groot blywees, die trotsheid om te weet dat die mens se magtigste instink – dié om te oorlewe – getrou gedien is. Dis lekker om te lewe.
Ons het dit gemaak. Ou Chris het met sy mond op ‘n stuk stomp geval; skrapnel het vir Harris in die sy getref; Nel se pinkie het in sy geweer se werkende dele beland, het dit laat oopbars soos ‘n spanspek wat deur ‘n piksteel getref is, sal net met Nel gebeur, Nel wat tien duime het wat nie een met die ander praat nie... maar hei, eintlik is almal oukei.


Maar miskien nie, want dit kan wees dat julle eerste kontak fataal was en dan is daar ‘n troep wat by sy bebloede buddie sit en sy naam uitskree, en ‘n medic wat hulpeloos sy skouers optrek.

Philip Venter – Facebook.