Loading ...

Op 'n kol word ons voordag met een moeviese spoed in die buffels geboender. Ek dink twee weke se rantsoene.
Daai buffels het gery en gery....en gery.
Ek onthou nog hoe swaar my kit was. Ek kon nie my arms buig as ek dit optel nie. Moes my rugsak teen n boom sit, dan inklim, vasmaak en opstaan.
Die buffels was skaars weg of ons word vertel ons stap terug en ons moet vanaand in die basis wees. Seker n dronk weddenskap in die kroeg die vorige aand. Dink nog steeds die pel sers en bev se kit was leeg.
Gewoonlik as daar hard gestap was, was my seksie voor. Ek was baie erg daaroor dat formasie perfek gehou word. As ek links of regs agter kyk wou ek net een mens sien. Ek wou nie wonder wat gaan aan as die popo die fan strike nie.
Ek onthou nog hoe dit gevoel het of my hakke in die grond wou wegasak van die gewig. Na 500m het ek gevoel ek gaan nie 5km maak nie maar, daar steek mos meer in n mens as wat jy dink en ons het die klicks so een-een afgetel.
Hoe ook al, ek het later opgegee oor die formasie ding. Ons was almal eenvoudig heeltemal uigeput. Ek kon later net nie meer nie (So het ek gedink.) en het ook vir my 2ib so gesê. Ek dink die pel sers het dit gehoor want ek het hom hoor sê: "Ons is amper daar.Ek kan al die aapkas sien." Ek kyk toe op en kon nie eers die toring sien nie en ek het geweet jy kan daai toring blerrie ver sien. Dit was net genoeg vir my en ek het onder die eerste boom gaan sit. Ek onthou dat die moegheid net eenvoudig nie minder geword het nie.
Na n rukkie het ek weer so n bietjie moed bymekaargeskraap en opgestaan.
Skaars 20 meter geloop of die aapkas verskyn in al sy glorie voor my.
Saggies maar heel hoorbaar klink die roepe toe ook: "Korporaal Viljoen! Korporaal Viljoen!." My hele seksie staan in n ry en roep my. Groot smiles op hulle gesigte. Het ek nou nie gat gevoel nie. Die hele volgende dag moes ek deurloop onder al die grappies.
Pleks het die bliksems oor my geworry en my kom soek! ?
Partykeer gee ons miskien op omdat ons nie glo die aapkas is so naby nie........Stap nog net 20 meter.

Deon Viljoen – Facebook 05 Jan 2018