Loading ...

Ons word vroeg oggend bymekaar geskrop en daar word 'n bevel gegee on twee addisionele spaar wiele op die buffels vas te maak.  Dit beteken net een ding. Donnerse landmyne. Ons mag nou weer nie op die grond paaie ry nie. Ons gaan vandag bundu bash dat ons weet.  Spaar wiele gelaai en vas en ons kies koers op die teerpad in Calauec waterskema se rigting. Nie dat ons werklik presies weer waar dit is nie. Ons stop eers op die teerpad vir die brass om te konfedereer en dan begin ons deur daai bosse bars asof ons lewens daarvan afhang.  Elke nou en dan vloek 'n man as 'n doring tak hom bykom. Hier en daar hang 'n troep aan die toutjie wat aan sy boshoed vas is, terwyl die boshoed in 'n boom vassit. Daai doring takke het ook 'n R4 gesteel toe dit aan die geweer beld vasgryp.  So neuk ons voort deur die bosse. Elke nou en dan ............'n pap wiel.

Ons hoor 'n moerse gedreun aan kom en bespied 'n Koevoet Kasper wat oop ketel op daai pad jaag. 'n Offisier spring in die pad en die Kasper stop. Hy waarsku die Koevoet manne oor die landmyn affere. Hulle lag hom summier uit en sê dat dit al gister verwyder was. In elk geval is hulle nie bang vir 'n ou landmyntjie nie. Hulle sê ons moet uit die bosse kom en hulle volg. Ook maar net betyds, want niemand het meer 'n harde spaarwiel oor nie. Ons sukkel nog ñ spaarwiel vas en ons is uiteindelik uit die bos.  Nou moet ons vir die Koevoete wag, want hulle koel nou eers af in die sement watervoor wat langs die pad afloop. Uiteindelik daar trek ons met opdrag van die geharde polisie manne af om naby te volg.  Die rooi stof is verstikkend en klou aan ons nat hare , gesigte en klere vas, maar naby volg ons. Ek ry so derde van die Kasper af, maar ry bykans blind. 
Skielik voel ons net doef, foef, doef, doef en nogmaals doef.

Ons visgraat soos ons geleer was en toe die stof wegtrek vanaf die pad af, hang ons bekke behoorlik oop van die slagveld wat ons gade slaan. Daar staan 'n ouerige Ovambo man met sy hande oor sy kop gevou asof om te sê, wat de %&# het julle gedoen.  Tussen ons en die man lê omtrent dertig boer bokke vrek of besig om te vrek. Die hele konfooi was bo-oor hulle. 'n Offisier stap nader en trek sy pistool uit om van die swaar verwonde bokke uit die lewe te help. Van die troepe scheem dis 'n moerse humanitere ding en begin toe ook sommer skiet onder die bokke. Daar trek daai Ovambo met sy oorblywende kudde agterna. Die Koevoete het intussen ook weer omgedraai en met die stopslag, begin hulle die minste beskadigste bokke laai. Kyk ons laat ook nie op ons wag nie en ons laai self. As vergoeding los ons twee blikke Nugget skoen polish en sowat tien ratpacks en daar trek ons.
By Caluaec aan gekom, word ons vertel dat daar 'n anti personeel myn in die pad gevind was. Eers toe bekyk ons mekaar so van kop tot tone, want al hoe jy die volgende ou kon uitken was aan sy stem, want toe lyk ons soos ginger bread mannetjies van al die stof. Ons het lekker vars, maar erg gekneusde bok gebraai. Die volgende oggend weer terug na Ruacana, want daai Kasper se ouens het die kill opgetel, maar tog het hulle ons nog steeds eers veilig besorg by ons bestemming. Hulle was ysters.

Chris Vorstman – Facebook