Loading ...

Suidweskinders en spoorsny in oorlogtyd...

(Opgedra aan al die Spoorsnyers)

Spoorsny... aangeleerde kuns of ingebore bate. Grootword alledag ding of ore en oë toevertrou aan die instrukteur en die spoorkaarte en geskrifte? Om aan die einde van die dag die spoor te kan lees, op te volg en - uit te haal. Of om dan self uitgehaal te word as jy iewers tussen die klippe, sand, stokkies en gras die teenspoor misgelees het. Die varsheid verwar of die dringendheid onderskat het.

Wel, ek is nie 'n opgeleide spoorsnyer gewees nie. Eerder 'n gebore een. Een wie gelukkig genoeg was om Wacuwari- en San seuns as leermeesters te gehad het toe ek nog maar net so oor kniehoogte op die plaas in suidwes-Angola was. Of in die sandvelde van die Tsintsabis Manghetti gebied noord van Tsumeb. Of by die Himbas in die berge wes van Ruacana. En daarmee saam het ek geleer om te oorleef deur te weet hoe en waar om na water te soek. Waterdraende plante, bolle en stingeltjies. Veldkosse, van plant of van dierlike oorsprong. Ek was 'n gelukkige wit kind, want daardie kennis het my gehelp oorleef partykeer toe ek dit die nodigste gehad het.
Maar eintlik wil ek julle iets anders vertel, iets wat ook met spore te doen het, en wat ek met Peter Stiff (RIV), skrywer van formaat, gedeel het kort voordat hy oorlede is. En dit het gegaan oor iets van die spoorsnyvermoë van die Owambo wat hy in sy boek "The Covert War - subtitel : Koevoet Operations Namibia 1979-1989" beskryf het. Oor die woord "oi" wat hy so volkleurig geborduur het - en eintlik 'n mite geskep het van iets wat so doodnormaal was soos ... wel, 'n skaal mahangobier op 'n warm voetpatrolliedag iewers in Owamboland!


Peter het die spoorsnytegniek baie goed beskryf, maar myns insiens ongelukkig 'n bietjie baie meer bonatuurlike waas daaraan toegeskryf as wat regtig nodig was. Ja! Die Owambo (en hier gebruik ek 'n versamelnaam om sommer al ons anderskleurige spoorsny makkers daar bo te beskryf), het respek vir die dood gehad, en alles wat daarmee gepaard gegaan het. Maar ek dink Peter het so 'n bietjie kwistig met sy skrywerskwas aangegaan toe hy hulle interaksie met die spore beskryf het. 
Volgens hom het hulle eers met die vuurwapenlope die spoor aangedui so in die stap. Toe hou hulle op daarmee want dit sou kwansuis ongeluk bring. Nou volgens 'n toordokter, blykbaar. Toe gebruik hulle 'n stok, maar mag glo nie op die spoor raak of op dit trap nie. Uit respek, klaarblyklik. Die spoorsnyers het dan weer eerbiedwaardig sand op die spoor gegooi, weereens uit respek. En die woord "oi" is oor en oor gebruik, blykbaar 'n magiese woord wat die kwaad afgeweer het. Of so iets. Selfs as hulle op die spoor begin hardloop het. Dan het die "oi's" sommer aanmekaar geraak! Oi tog, Peter...!


Ek kon nie self met Peter Stiff gesels soos in die verlede nie, en moes terugvoering deur middel van 'n email gee. Ek weet nie of hy my uiteindelike verduideliking gekry het, en of hy in die herdruk van sy boeke daarna sou verwys nie. Maar ek weet dat hy vatbaar vir oortuiging was - veral as daardie oortuiging gebuig was deur nuwe feite. Ek dink vandag hy het hom laat lei deur ouens wie self die ge-oiery waargeneem en as gevolg van die onkunde in die taalgebruik en spoorsnytegniek, ook die spoorsny in 'n aura eerder as 'n praktiese funksie gesien het. Hier is 'n herhaling van my verduideliking uit eie ondervinding aan Peter Stiff. Oordeel maar self...
Die spoorsnyer het altyd na die spoor gewys. Met sy hand, 'n stok of sy geweerloop. Of sommer met sy stewelpunt as sy geweer skietgereed in die hande geklem is, oë meer in die omtrek reg voor hom as op die spoor. Baie, baie vars, Adjudant! Die feit dat hulle nie op die spoor getrap het was logies van aard. Nie uit respek nie - maar om dit weer te kan sien en begin volg as hulle dit iewers daar voor verloor het. Jy gaan altyd weer terug na waar jy dit laas gesien het. Sal nie sin maak as dit doodgetrap is nie, nê? Die sand/grond op die spoor-gooiery - dit was eerder langs die spoor. Die spoorsnyer kon dan op die verskil in kleur sy beramings maak, uit sy persoonlik ervaring ontleen. En die stok of lat het nog 'n doel gedien behalwe vir die "vinder" om sy vonds aan te dui. Julle moet nou ook in gedagte hou dat met so 'n opvolg daar verskeie spoorsnyers op die grond is. Die Owambo spoorsnyer het nooit as 'n enkeling opgetree nie, altyd in 'n groep. Gewoonlik seksie-sterkte. En die feit dat die spoor deur verskillendes gevind is altyd vorentoe, het die snelheid van die opvolg bepaal. Met teenspoorsny was dit bietjie anders, maar dieselfde algemene prinsiep. In elk geval, die stok/lat-gedeelte...


Die stokkie of lat is, soos reeds gesê, gebruik om die spoor aan te dui. En om grassies en sagte mopanielote liggies eenkant toe te druk om te sien of 'n stewel 'n merkie daaronder gelos het. Of om die struikeldraad van 'n pom-z of 'n PROM betyds raak te sien sodat ek dit kon beveilig voordat dit skade kon aanrig. In my tien jaar en 'n bietjie daar bo het ons omtrent so 'n dosyn gelig en twee gemis. Een met die Casspir in die sandvelde oos van die kragpale, en een in die berge. Die lat was dus maar net 'n hulpmiddel, sodat die R5 of AK stewig gegreep en gevegsgereed kon bly. Die lat het ook in my eerste jaar op Ruacana 'n ander doel gedien! Toe spesiale Sersant Hidipo Shiweda (RIV, my bloedbroer) my kaal bene met 'n rooi rapsmerk gelaat het toe hy sonder seremonie vir my sê : "jy trap my f..kn spore dood, shirumbu!" Was toe nog Uniformtak, die LMG-draer vir die dag op 'n SWAPO moordtoneel, maar het my les geleer!


Die woord "oi" waaroor Peter Stiff so liries geraak het, was geen verdraaing van Haar Majesteit se Imperiale Taal nie. Nog minder enige spesiale woord wat die Owambo spoorsnyer daardie ekstra vuma en onstuitbaarheid gegee het. Ek het dit reeds as kind gebruik op die plaas in Angola! In die Kwanyama taalgebruik waaronder die Wacuwari, die Owahimba, en die Okolonghadis van die groter Ruacana-gebied geval het, en het dit 'n eenvoudige verduideliking gehad. Dit was nie 'n woord nie - dit was 'n sin. En vir die oningeligde het dit soos 'n woord geklink. Soos Peter Stiff se "oi"! vir hom en andere geklink het! Terloops - die Wa vooraan 'n Angolese stamnaam dui die meervoud aan, die Mu snede dui weer dieselfde stamlid as 'n enkeling aan ... een Mucuwari, twee Wacuwari.


In ieder geval, die "oi" is foneties uitgedruk as o jé hi, menende: hier is dit! Niks meer en niks minder nie. Die spoorsnyer dui net sy vonds aan die ander aan! En hoe meer en hoe vinniger die spoor deur enkelinge opgemerk word, hoe vinniger word op die spoor gedraf, met die o jé hi's (oi's) al hoe meer hoorbaar, op mekaar. Dan het jy as spanleier geweet dat dit goed gaan op die spoor, dat die opvolg dalk 'n suksesvolle uiteinde kan hê...


Dit is wat ek vir Peter Stiff gesê het, min of meer. Ek het self eendag daardie "o jé hi" ge-uiter toe ek die teenspoor op 'n kritieke stadium self gebreek het in die berge wes van die kraglyn ná 'n sabotasie. Toe alles verlore gelyk en ons die spoor verloor het, het ek grassade en dorings uit my sokkies op 'n plat klip uitgetrek nadat ek eers my Israeliese gevegstewels teleurgesteld en sonder seremonie uitgepluk het. Totdat ek 'n dun hakstrepie van minder as twee sentimeter net langs 'n ander plat kalkklip sonaf opgemerk het! My "o jé hi" het my manne onmiddelik in rat gekry, nog voordat ek weer my stewels kon aankry. En my spoorsnyers het die opposisie aan die hardloop gehad toe ek die Puma met 'n Koevoet gevegseksie by my laat land het. 'n Halfuur later het die Koevoetmanne die kontak afgedwing en een paalsaboteur gedood. Ek en my moeë spoorsnyers was dankbaar. Ons het ons taking daardie dag van eerste tot laaste lig met eer nagekom en ons Koevoet broers het dit voltooi. Met daardie "o jé hi" uit 'n wit, natuuropgeleide spoorsnyer se mond...! Nie die magiese "oi" van Peter Stiff se boek nie.


Ek moet sê, daar was 'n manier wat ons in die berge die "o jé hi" 'n bietjie aangehelp het, veral as die teenspoorsny en die lang klipplate in die berge wes van Ruacana ons so 'n bietjie frustreer het. Met my 60mm Patmor, natuurlik! En dit het telkens die probleem opgelos! As die bomme ontplof het, het die opposisie nie baie ag geslaan op teenspoorsny nie. En so onderskep ek eendag Smittie van die Zulu 6 herleistasie op Ruacana se boodskap aan 'n aankomende, geroepte Koevoetspan : "Nee gits! Corrie het nog nie mortiere gegooi nie. Hulle het seker nog die spoor!" Jaaaa, Smittie...! En die Patmor het 'n ander doel ook gedien. Nie net as "motivator" om PLAN aan die hardloop te sit nie, maar ook om sommige - julle doen dit met ons ook - Romeo Mikes van die Weermag te laat afsien om ons te "shadow" as ons spore jaag. Die Koevoet beheerspanleier se boodskap was gewoonlik kort en kragtig oor die A53 foksie mike : "Corrie, dink jy nie dis tyd nie?" En dan trek so vier of ses brisant 60mm Patmor rondtes op ekstra lading so in die algemene rigting van die snuffellende Romeo Mike span. End of story...


Die ingebore spoorsnyvermoë het my baie kere in die toekoms in Suid-Afrika baie handig te pas gekom. Ek kan onthou dat ek self die spore gevolg het nadat gewapende rowers hulle voertuig verlaat en boslangs probeer ontvlug het. Dit was op Hoedspruit iewers in 1994 gewees. Een van die gewapende wagte vir 'n bankvoertuig was kritiek gewond met 'n hoofbesering nadat die aanvallers onsuksesvol probeer het om die versterkte voertuig te kaap en die inhoud te buit. So tien kilometer suidoos van Hoedspruit het die rowers grond toe gegaan in 'n poging om te ontvlug. Ek het hulle spoor gevolg, met my Polisiestasie se lede en speurders as ondersteuning. Ek het hulle opdrag gegee om die heinings mooi te deursoek soos ons aanbeweeg, en sodoende het ons twee AK 47 aanvalsgewere gekry. Die aanvallers het weer op die teerpad geklim en het weggekom, maar is hulle toe wel later gearresteer. Vir my manne was dit nie vreemd dat ek, as hulle bevelvoerder, self die spore opgevolg het nie...

Ek dra hierdie verhaal op aan al die spoorsnyers wie daarbo in Owamboland, Kaokoveld, Kavango en die Caprivi gedraai het. Die natuurlikes soos ek, my Owambo- en enkele wit plaasboertjie-makkers. En aan julle, die opgeleide spoorsnyers van SWASPES en die Recces. Ook aan Sampie Potgieter, Recce- en Koevoet veteraan, wie volmondig saamgestem het dat die Owambo spoorsnyer uniek was... met of sonder die magiese "oi" van die geskiedskrywers...

(Die foto vir hierdie verhaal is deur spesiale sersant Hidipo Shiweda geneem. Naby Etoto, op die grens tussen Kaokoveld en Owamboland. Ek is besig met so 'n bietjie "motivation" oefening met my getroue Patmor - sodat die opposisie aangemoedig kan word om 'n flatertjie of twee met hulle teenspoorsnytegnieke te begaan...

Artikel oorgeneem uit Facebook,

Geplaas met dank en spesiale vergunning van Corrie Prinsloo).