Loading ...

Soos n kompanie bevelvoerder op die grens die een inname na die ander beleef, dan raak jy wyser. Jy ontplooi nie sonder jou sakkie mieliemeel nie. Maar mieliemeel reageer nie baie gunstig op ʼn esbit stofie nie, so dit is maar vir ʼn spesiale geleentheid. Dan ook jy moet jou blikkie bakpoeier ook maar saamvat. Bo en behalwe dat dit ratpack sooibrand se Moses is, is dit deel van die pap resep.

Maar na 3 weke wat hierdie sakkie mieliemeel nou so 3 weke gebruik vrygespring het, dan is dit maar n muwwerige spul, en n goggatjie of twee het dit hulle tuiste gemaak en soos goggas nou maar maak, het begin om te floreer – soos die natuur dit nou maar voorskryf. As ʼn mens dan gesout is, weet jy ook dat mieliepap op ʼn oop vuur in ʼn dun aluminium potjie sy eie uitdagings het, en nie altyd werk nie. So jy ry maar jou potyster platboom potjie saam.

Die Resep

Die Ratel skopgraaf mooi skoongemaak, want hy dien ook as instrument vir die vinnige gaatjiegrou agter die naaste bos.

ʼn Goeie Mopaniehoutvuur om hom skoon te brand. Beter hout werk beter, maar in Cuamato se omgewing was daar net Mopanie.

Verhit die graaf oor die vuur. Plaas dan die mieliemeel bietjie vir bietjie op die warm graaf. Doen dit maar geleidelik om die goggas kans te gee om te ontsnap. Dan rooster jy die mieliemeel tot bruinbroodbruin. Jy weet wanneer dit reg is as die klein deeltjies soos pocorn begin lyk. Hulle word so effe groter.

Laat die mieliemeel dan effe afkoel want bakpoeier hou nie van baie hitte nie. Roer die meel op die graaf deurmekaar want jy wil nie klonte daarin hê nie.

Wanneer die mieliemeel afgekoel het sodat jy jou vinger sonder pyn in die hopie meel kan indruk, dan voeg jy n halwe pikstel lepel bakpoeier by – so 3 koppies meel op een pikstel bakpoeier dosis. Roer goed deurmekaar. Voeg dan 3 pakkies ratpack sout by en roer deeglik.
Intussen is die water in die pot al aan die kook. Onthou daar moet minder water wees as meel want anders maak jy ontbytpap en jou bemanning gaan nie daarvan hou nie.

Gooi die mengsel in die potjie. As dit begin bruis in die warm water, moenie bekommerd wees nie – dit is die bakpoeier en nie die goggas nie, want hulle het reeds vertrek.

Roer vir ongeveer een minuut om seker te maak daar is geen klontjies nie.

Die Mopanievuur behoort nou heftig te wees tot borrel – nie prut nie. Laat die spulletjie so twee minute heftig tekere gaan.

Skraap die gloeiende kole effe weg en bring die potjie tot prut – Plup – Plup ensovoorts. Los hom vir ongeveer 35 minute onder deksel.
Roer dan deeglik om ʼn krummeleffek te vorm. Indien nodig, voeg nog so effe warm water by – nie koud nie.

Skraap die warm kole weer nader sodat hy behoorlik stoom. So vir 10 minute.

Verwyder van die vuur af en skep op met jou spesiale Ratpack sous – Corned beef Hash. Of dalk ʼn Cheezie.

Geniet!!!

 

Daai tyd het ons onse vingers afgeëet agter die lekkerte aan.

Kan myself nie eintlik vandag indink dat ek by die Spur soiets sal bestel nie. Maar toe was toe en nou is nou.
© Dawid Lotter